ONS OMROEPERS


DENISE WILLIAMS

Uitsaai tye:
Sondae 09:00 - 13:00

Gebore Oos-Kapenaar, maar behoorlik getoë in die Wes-Kaap met ‘n aantal jare ook in Kwa-Zulu Natal en etlike jare in Gauteng.

Denise Williams is baie lief vir mense en beskik selfs oor ‘n Honneurs graad in Gedragsberading. Omdat sy God se intense liefde vir haar daagliks ervaar en Sy goedheid en guns beleef, leef sy daarvoor om hulle wat Jesus nog nie ken nie, by Hom uit te bring. Die Heilige Gees bewerkstellig dit mos, Hy doen die werk. Behalwe uitsaaiwerk, werk sy met verskeie nie vir wins organisasies (NVW) en private besighede as logistieke beplanner.

Haar twee kinders, Leigh-Anne en Dale, is haar kosbaarste (menslik gesproke). Hulle het al harde bene saam gekou, maar die Here het hulle deur elke uitdaging sterker en nader aan Hom en mekaar gebring. Albei haar kinders het ‘n aansteeklike humorsin – daar word baie gelag in hulle huis.

Tien jaar gelede het sy die voorreg gekry om by Tygerberg 104FM te begin uitsaai, en sy geniet elke oomblik daarvan. Sy is opgewonde oor al haar radiokollegas. Ons het almal een doel voor oë en dit is om die boodskap van verlossing in Christus Jesus, met ons handel en wandel en ons woord en daad te verkondig. Wat ‘n Godgegewe voorreg!

Haar stokperdjies is lees, stap en die natuur. Sy doen ook motiveringspraatjies, preek by kerke en tree op as geleentheidsanger.

Haar leuse vir die lewe is “Daar is geleenthede
vir elkeen
onder God
se Son
- gee jouself
‘n kans”